Die Lewe aan God se Woord

 

Waaroor gaan die lewe?

 

Dis ‘n vraag wat ek myself al menigte male gevra het en myself dikwels moet herhinner – waaroor die lewe wel gaan!

 

Soos Paulus gesê het: vir hom is die lewe Christus en die dood net ‘n wins.  Dan is dit waarna ons moet strewe – dat ons ook daardie punt bereik waar die lewe vir ons Christus is en dat ons inderwaarheid kan uitsien na die dood of na die wederkoms van ons Here en Verloser!

 

Die laaste 4 maande van my lewe het dit vir my gevoel of die Here my kom skud het en vir my kom vra: “Pieter, wat glo jy?  Hoekom glo jy dit?”

 

Nou, vir my is daar een bron wat vir my absolute sekerheid in die lewe gee en dit is die Heilige Woord van God wat deur Sy Gees geinspireerd is.  Ek glo met my hele hart dat alles wat ek en enige ander Christen nodig het om te weet, die Here vir ons in Sy woord saam gevat het, dat daar absoluut niks kort in die Bybel nie en dat God nie iets vergeet het wat ons sal nodig hê om te leef volgens Sy wil nie!  God is almagtig en alwetend en daar is niks wat in Sy pad staan wanneer God iets wil doen nie!  En daarom is dit vir my baie belangrik dat ons nooit sal afwyk van die vaste fondament wat God vir ons deur Sy Woord in die Bybel gegee het nie, want God bly dieselfde tot in alle ewigheid!  En dat ek as Christen die hele Bybel aanvaar as die heilige Skrif van God en dat ek nie net sekere verse vat en rondom dit vir my ‘n geloof bou nie, maar dat ek God se wil soek deur die Bybel as ‘n geheel op my lewe toe te pas!

 

2Ti 3:16  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,

2Ti 3:17  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.

 

As ons dan iets wil leer, moet ons dit uit die Skrif leer en as ons iets glo moet ons Skriftelike grond hê om dit wat ons glo te kan verdedig.  Dit is baie belangrik om wat ons uit die Skrif leer, in die regte konteks te leer sodat wanneer ons dit op ons lewens toepas dat dit in die regte konteks sal wees soos wat dit deur God bedoel is!  Ons kan so maklik iets lees wat nie daar staan nie en anders om, want ons wil baie keer onsself regverdig en dit is nie die bedoeling van God’s Woord nie.  Ons moet seker maak dat ons dit reg verstaan en na die Gees van God, wat in elke Christen se hart spreek, luister! 

 

Ons moet seker maak dat ons nie onsuiwerhede in ons geloof toelaat nie – dinge wat stadig oor tyd in ons lewens plaasvind en wat ons net oorsien en verdra.  Ons moet seker maak dat ons alles wat ons hoor en glo aan die Woord van God toets en dan so deur Sy genade op die pad van die ewige lewe bly!  Dit is baie belangrik om alles te toets, om seker te maak dat dit wat gepreek word in ons kerke, wat ons by ons vriende hoor of wat die geval ook mag wees, dat ons sal seker maak dit stem ooreen met die Woord van God, want die woord van God sal vir altyd bly!  En wanneer ons iets hoor wat nie ooreenstem met die Woord van God nie, dan moet ons daarop reageer, anders sal ons soos ‘n padda in ‘n pot koue water bly tot ons dood gekook is!

 

Dit is so fantasties om te weet dat ons ‘n lewende God dien, ‘n God wat kan hoor en wat almagtig is en dat absoluut niks en niemand in ons God se pad kan staan nie, ‘n God van liefde en wat so in elk van ons belang stel dat daar nie eens een haar van jou hoof sal val sonder dat God dit weet nie.  Hy Leef!!!

 

In die laaste tydperk in my lewe het daar baie dinge gebeur wat veroorsaak het dat ek net weer moes stil sit en bietjie mooi dink oor alles in die lewe.  Daar het baie dinge gebeur wat fantasties was en baie wat weer glad nie lekker was en wat baie hartseer gebring het – regdeur ons land en ook in die hemel!  Ek was deel van ‘n sending wat vir my tot groot seën was in my geestelikke lewe en waar daar baie geestelike groei in my lewe plaas gevind het.

 

Die Here het vir my ‘n meisie kom wys en deur die verloop van 9 maande het die Here dit op verskeie maniere vir my kom duidelik maak dat ek met die meisie moet trou!  Fantasties!  Maar na ons verlowing het daar ‘n paar komplikasies vorendag gekom!  Ek het ongeskrewe, mensgemaakte reëls oorskrei.  Vir my was dit baie belangrik om voor die Here in reinheid teenoor my verloofde te handel en daarom het ek besluit om glad nie ‘n fisiese verhouding met die meisie te hê nie maar dat dit eers na ons huwelik in daardie rigting sal beweeg.  Nou, in die sending is dit dikwels gesê dat ons nie diere is nie.  En die Here het vir ons ‘n Gees van selfbeheersing gegee, maar vir my is dit duidelik gemaak, nadat ons ‘n ruk verloof was, dat ek moet vlug van my verloofde vir twee redes:

 

Nr 1 Die getuienis wat ons uitstraal wanneer ons by mekaar kom – en ons het slegs in familie verband by mekaar gekom en ek het nie een maal alleen met hierdie meisie (nou my vrou) gekuier nie – dat dit ‘n slegte getuienis is aan die buite wêreld.

 

Nr 2  Dat, as ons mekaar wel sien soos wat ons het, dan wandel ons nie op die pad van Herlewing nie en dit kom maar daarop neer dat ons verkeerd is en dat ons dan nie eensgesind is nie en dan pas ons nie in by die sending nie.

 

Na ‘n paar hartseer vergaderings met ons prediker het hy vir ons gesê dat hy ons nie in die huwelik kon bevestig nie, omdat ons nie eensgesind is oor die wyse waarop verloofdes hulle moet gedra teenoor mekaar nie en dit het tot gevolg dat, as hy ons trou, die Here nie ons huwelik kan seën nie.

 

Dit was vir my glad nie ‘n probleem om my verloofde nie te sien in die verlowingstydperk nie, want dit was maar ‘n bietjie meer as twee maande en dan sou ons, as die Here wil, vir die res van ons lewens saam wees.  Daarom het ek dit so aan ons prediker oorgedra en gesê dat ek haar nie meer sal sien tot en met die troue nie, maar dit was nie aanvaarbaar nie, want ek het nie my siening oor die saak verander nie.  Die volgende verhaal is deur my prediker aan my vertel: In Europa was daar ook ‘n jong man wat op die selfde wyse verloof geraak het en ná sy verlowing het hy besluit dat hy wel vir sy verloofde gaan kuier en so het hy gemaak.  Sy prediker sê toe vir hom dat hy op die pad van die duiwel is en hier is die pad van die Here en dat hy moet gaan kies.  Na ‘n dag in die bos het die man terug gekom en homself bekeer van sy weë en gesê hy sien nou die pad van die Here.  Nou, ek ken nie die volle omvang van die verhaal en wat die man by sy verloofde gedoen het nie, maar dit het vir my gevoel of daar van my verwag word dat ek moet my bekeer van die pad waarop ek loop en volgens my Bybel was daar niks fout met die pad waarop ek gewandel het teenoor my verloofde nie.  Dit sou vir my ‘n leuen wees om te sê ek is jammer wanneer ek nie jammer is, en in my hart oortuig is dat ek voor God reg handel teenoor my verloofde.

 

“Wanneer mense glo iets is nie reg nie maar hulle doen dit, dan is dit sonde.” Rom 14:23b

 

Persoonlike oortuigings wat ons van die Here ontvang het is fantasties en iemand wat sonder sulke oortuigings lewe, wandel op dun ys.  Maar een ding moet ons mooi verstaan: elke oortuiging wat ek het, moet ek kan grond en bewys uit die Woord van God, want God verander nooit en daar kort niks in die Bybel nie en daarom moet elke oortuiging aan God se Woord getoets word.  Verder kan ek nie my eie oortuigings op ander mense afdruk en dit wet maak nie, want nie een persoon is dieselfde nie en God werk met elke individu op ‘n unieke manier.  Daar is duidelike riglyne in die Bybel waaroor geen Christen met ‘n ander Christen kan of mag verskil nie, maar dit is nie voor God behaaglik wanneer ons mense na volg in plaas van Christus nie!

 

“Dit help niks om vir God so te dien nie. Want hulle leer vir die mense wette wat hulle self gemaak het, en dan se hulle dit is God se wette.” Mar. 7:7

 

Almal van ons weet dat daar niemand in die hemel in ge“abba” word nie; niemand kan in die hemel in gehelp word nie – dis alleen op die Rug van Christus, as ek dit so kan stel, wat ons die ewige lewe kan beërwe!  Daarom moet ons seker maak dat ons ‘n persoonlike verhouding met die Here Jesus Christus het.

“In U naam het ek gepreek en in U naam het ek duiwels uitgedrywe.”  “Gaan weg, Ek ken jou nie!”

Laat ons seker maak dat ons daardie intieme verhouding het met ons Geestelike Bruidegom!  En dat ons by Jesus se voete sal wees en by Hom sal leer.

 

Julle moenie luister na die mense wat dink hulle sê slim dinge en wat vir julle dinge laat glo wat nie waar is nie.  Hulle het daardie dinge by ander mense geleer, nie by Christus nie.” Kol 2:8

 

Ons eensgesindheid lê nie by menslike dinge nie, maar dit is verborge in die kerk, die liggaam van Christus.

 

Gal 3:28  Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.

 

Rom 14  Daar is gelowiges wat twyfel, hulle geloof is swak. JULLE MOET HULLE AANVAAR. Hulle dink meskien anders as julle oor party dinge en hulle dink hulle is reg. Julle moenie met hulle daaroor stry nie...

 

Soos ek gesê het – daar is sekere dinge wat vir ons baie duidelik uiteengesit is in die Bybel, waaroor niemand van ons kan stry nie (jy mag nie steel nie ens.).  Maar sekere dinge soos kos en kleredrag en nog baie ander dinge is waarin ons mekaar moet help en akkommodeer en mekaar se verskille respekteer!

 

Laat ons nie ons tyd mors met mensgemaakte reëls en wette nie, maar laat ons ons besig hou met dinge wat ‘n ewigheidswaarde het en laat ons die tyd uitkoop, want ons lewe in die laaste dae!

 

1Pe 2:21  Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ‘n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg;

 

Is dit die begeerte van jou hart om in die voetstappe van die Here Jesus te wandel?

 

Onthou, Jesus kom gou en net die wat reg is sal saam met hom gaan; net die wat ‘n intieme verhouding met die Verloser en Saligmaker het!  Die Weg, die Waarheid en die Lewe!  Christus Jesus.

 

 

Laat ons nabootsers van Christus wees!

Pieter Janse v Rensburg